Jou droomtrourok: Custom-made of Ready-to-wear?

Jou droomtrourok: Custom-made of Ready-to-wear?
Wat is regtig die verskil tussen ‘n custom made ontwerpersrok en ‘n ready-to-wear trourok? Dit klink na ‘n eenvoudige vraag, maar mammas en bruide is steeds in die duister oor wat dit beteken as jy jou droomrok kies en watter opsie om van te kies.

Ready-To-Wear:

  • Kyk, as jy ‘n senuweeagtige bruid is en nie ‘n ontwerper se visie kan sien om ‘n rok van voor af te maak nie, dan is dit die beste om ‘n ready-to-wear trourok te kies. Jy kan die rok voor die tyd aanpas om ‘n idee te kry hoe jou finale produk gaan lyk.
  • Verskeie bruidshuise voer trourokke van oorsese ontwerpers in, maar in Suid-Afrika is daar plaaslike ontwerpers wat ‘n van-die-rak-af-reeks het – soos my eie Diaan Daniels Devoted-reeks.
  • Jy het gewoonlik net ‘n keuse van kleur en as jy iets wil verander, sal dit moet gebeur as jou ingevoerde rok in Suid-Afrika aankom om alterasies te doen. Die alterasies op ‘n ready-to-wear rok is beperk, want jy kan net soveel verander. Die oorsese ontwerpershuise gaan beslis nie vir jou rok ‘n ooprug maak nie. Jy gaan die rok soos op die prentjie in hul katalogus ontvang.
  • Goeie nuus – Suid-Afrikaanse ready-to-wear ontwerpers soos ek wat ons eie reekse het, kan veranderings aanbring en baie meer verander om by jou styl te pas, want ons het die reeks ontwerp en nie ‘n internationale bruidshuis wat net rokke invoer nie.
  • As jy op jou droomrok besluit en dit is ‘n ready-to-wear is dit vanselfsprekend dat daardie rok vir die publiek beskikbaar is om te bestel en is nie esklusief vir jou ontwerp nie. Mamma moet dus nie na die tyd bel en sê my kind se trourok was op die voorblad van Huisgenoot nie en hoe durf ons haar kind se rok vir ‘n celeb gee. Dit is hoekom dit belangrik is dat jy die verskil tussen custom-made en ready-to-wear ken.
  • Ready-to-wear kan vir die bruid baie minder stres oplewer as ‘n ontwerper se skets wat van nuuts af gemaak moet word. Elkeen het sy voor- en nadele, maar wees verseker nie elke bruid lyk dieselfde in ‘n trourok nie. Jy kan onmoontlik duisende bruide met dieselfde trourok ontmoet as jy op ‘n ready-to-wear besluit.
  • Soms is ready-to-wear ook meer bekostigbaar as ‘n custom-made rok, maar dit hang af van die ontwerper en bruidshuise se kwaliteit en ontwerpe.
  • Prys: ‘n Ready-to-wear rok is partykeer meer bekostigbaar as ‘n custom-made trourok. Die prys is ongeveer vanaf R15 000 vir ‘n goeie kwaliteit-rok.

Custom-Made:

  • Hierdie is soos in die ou dae toe jy as bruid na ‘n ontwerper gegaan het; bruidshuise het geen ingevoerde rokke gehad nie.
  • Die ontwerper konsulteer met jou en stel jou styl vas, kyk na jou figuur en ontwerp vir jou op papier ‘n trourok wat enig van sy soort is.
  • Jy het die keuse van lap, snit en al die detail waarvan jy hou en ook om ‘n paar veranderings te maak gedurende die proses om jou droomrok te skep.
  • Hierdie kan òf ‘n goeie òf slegte ervaring wees. Maak seker jy kies die ontwerper baie goed wat jou skets werklik kan maak, sodat jy gelukkig is met die eindproduk. Dit is hoekom sommige bruide eerder ‘n ready-to-wear kies en dalk net ‘n paar veranderings aanbring.
  • Dit is die beste dat jy sê waarvan jy hou en die ontwerper dan vrye teuels gee om die rok te omskep in iets asemrowend. Te veel riglyne van jou of jou ma se kant kan die ontwerper se kreatiwiteit inperk – dit is wanneer dinge begin verkeerd verloop. Maak seker jy en die ontwerper is op dieselfde bladsy en weereens kies hom/haar goed.
  • Prys: Custom-made rokke is meer duursaam as ready-to-wear trourokke. ‘n Begroting van R5000 gaan nie genoeg wees vir ‘n uitrusting enig-in-sy-soort nie, want die materiaal alleen is duurder as daardie bedrag.

WENK: As jy op ‘n tight budget werk en graag ‘n designer rok wil besit of by ‘n sekere ontwerper ‘n rok wil laat maak, wag tot hul ‘n uitverkoping het. Meeste bruidshuise en ontwerpers het 2 keer ‘n jaar ‘n uitverkoping om plek te maak vir hul nuwe reekse.

Ek as ontwerper Diaan Daniels het albei wêrelde vir my bruide om van te kies, custom made en ready-to-wear om die proses so maklik en stresvry as moontlik te maak. Daar is net een antwoord op die vraag moet ek custom-made of ready-to-wear gaan? Kies die een wat jou as bruid die vonkel in die oë gaan gee, maak nie saak van die rak af of nie. Jy moet soos ‘n prinses op jou dag voel. In jou hart sal jy weet watter keuse is die regte een as jy die rok aanglip of as die ontwerper dit teken.

Liefde Groete
Diaan Daniels